Pragmatiek is ʼn onderafdeling van taalkunde wat die metodes bestudeer van hoe konteks bydra tot betekenis. Pragmatiek omvat die taalhandelingsteorie, gespreksimplikatuur, gespreksanalise en ander benaderings tot taalgedrag in taalfilosofie, taalsosiologie, taalwetenskappe en antropologie.[1] Anders as semantiek, wat betekenis wat konvensioneel of "gekodeer" is in ʼn gegewe taal ondersoek, ondersoek pragmatiek hoe die oordrag van betekenis afhanklik is van nie net taalkundige kennis (bv. grammatika, leksikon ens.) van die spreker en luisteraar nie, maar ook die konteks van die uiting, alle voorkennis van die betrokkenes, die afgeleide intensie van die spreker, en ander faktore.[2] In die opsig verduidelik pragmatiek hoe taalgebruikers in staat is om skynbare dubbelsinnigheid te oorkom, aangesien betekenis steun op die manier, plek, tyd ens. van die uiting.[1]
Die vermoë om ʼn ander spreker se bedoelde betekenis te verstaan word pragmatiese bevoegdheid genoem.[3][4][5]